Die beste kruisdiere is met behulp van die sespuntplan van voortreflikheid vir verdere teling geselekteer. Die nageslag van bogenoemde is ingevolge ‘n driehoekkruisplan deur verskillende bulle in ‘n geslote kudde gedek. Dit het gelei tot ‘n nuwe ras wat as die Beefmaster bekend staan. Vanuit die staanspoor is daar vir ekonomies belangrike eienskappe geselekteer.
Die Beefmaster het, soos in Amerika, in Suid-Afrika vasgeskop. Vandag is dit ‘n winsbees waarmee rekening gehou moet word. Die Beefmaster Beestelersgenootskap is vanjaar 24 jaar oud. Met die groei van die afgelope jaar is die toekoms van die ras blink en koester die genootskap groot verwagtinge, veral met betrekking tot die produksie eienskappe van die ras.
Waar lê die kruks van ‘n suksesvolle beesboerdery? Natuurlik in die verkoopbare produk. Almal weet vrugbaarheid is die belangrikste faktor, maar die gewig van die kalweroes bepaal die grootte van die inkomste.
Die Beefmaster spog met ‘n speengewigverhouding van net meer as 47%. Dit maak die ras gesog in ‘n speenkalfproduksiestelsel, want ‘n groter hoeveelheid verkoopbare speenkalf (in kilogram) word met dieselfde aantal teelkoeie geproduseer. As dit deurgetrek word na ‘n groot aantal koeie of oor ‘n aantal jare, is die syfers indrukwekkend. Wanneer Beefmasterbulle by enige ander moederlynras- of kruisraskoeie gebruik word en die boer hou die vroulike nageslag as vervangingsverse terug, bring dit outomaties die gewenste eienskappe in teeltroppe in. Hier word verwys na vrugbaarheid, klein kalwers by geboorte (iets waarvoor die Beefmaster bekend is), ‘n korter tydsverloop voor herbesetting, verse wat op ‘n vroeër ouderdom gereed is om gedek te word, gehardheid, langlewendheid en ‘n goeie groeivermoë (speengewig).
In die proses kan boere ‘n bestaande kudde mettertyd vervang met die ras wat die telersgenootskap meen een van die moederlynrasse in die land geword het.
Die Suid-Afrikaanse Beefmaster word geteel en geselekteer om optimaal in al die klimaatstoestande van Suider-Afrika te produseer. Elke dier is die produk van toegewyde telers se seleksie en prestasietoetsing, met die klem op funksionele doeltreffendheid. Dit is nogtans goeie praktyk om bulle van telers in ‘n mens se eie omgewing te koop om die probleme met aanpassing vry te spring.
Op vanjaar se Nampo-Oesdag buite Bothaville was die telersgenootskap verras deur die spontane wyse waarop boere by die kraampie kom vertel het van die sukses wat hulle met Beefmasterbulle by hul kommersiële koeie behaal.
Boere het gesels oor hul eerste kalweroes, die puik vervangingsverse, die verhoogde speengewig van die hele kalweroes, die bekostigbaarheid van die bulle en die hanteerbaarheid van die kalwers.
Tweede en derde kruisings met Beefmasterbulle lewer ‘n steeds beter speengewig. Boere wat ‘n heen-en-weer kruisteelstelsel gebruik het, het gesê dat hulle die oplossing gekry het. Hulle gebruik nou slegs Beefmasterbulle.
Die afgelope twee jaar ondervind telers wat tot die genootskap behoort ‘n ongekende vraag na goeie bulle. Die ingeligte en ernstige beesboer weet waarna hy soek en hy kry dit in die Beefmaster. Maar die genootskap waarsku kopers van Beefmasterbulle om slegs bulle van geregistreerde telers te koop of op veiling wat onder die beskerming van die genootskap aangebied word.
Bogenoemde inligting is deur Beefmaster SA verskaf, besoek asseblief hul webwerf vir enige verdere inligting wat u op www.beefmastersa.co.za benodig.